Die beste bees- en skaapboere in Suid-Afrika sal vanjaar weer deur die dierevoermaatskappy
Voermol Feeds vereer word, en nominasies is nou oop.
Sien onder die meegaande inskrywingsvorms.
CT du Plessis, Voermol Voere se waarnemende nasionale verkoopsbestuurder, sê die kompetisie word saam met verskeie medewerkers en borge aangebied, naamlik Landbouweekblad, die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), die nasionale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), ENB, BKB en Zoetis. Voermol wag nominasies vanaf boere en verteenwoordigers van die borge, boereverenigings en ander landbou-organisasies in.
Die sluitingsdatum vir benoemings is die 31 Augustus 2025. Enige leierveeboer wat agting van sy medeboere geniet, kan benoem word, waarna ’n span baie ervare, onafhanklike beoordelaars drie finaliste in elke afdeling sal kies en hulle op hul plase besoek om die wenners aan te wys.
Met die finale beoordeling word die volgende aspekte in ag geneem: hulpbronbenutting, voervloeibeplanning, weidingbestuur, teling- en seleksiemaatstawwe, rekordhouding, vergelyking met ander norme, bemarking en waardetoevoeging, kuddeproduksie, voorkoms en kondisie van diere, infrastruktuur, personeelbestuur en deelname aan die georganiseerde landbou.
Die beste bees- en skaapboere sal tydens ‘n dinee in November 2025 erken word.
Die Beesboer van die Jaar word reeds die afgelope 20 jaar aangebied, terwyl die Skaapboer van die Jaar al 19 keer aangewys is.
CT du Plessis sê dis belangrik dat die wenners hul kennis en wye ervaring as veeboere met ander boere deel. Daarom gaan boeredae by elk van die twee wenners gehou word. Die datums sal so gou moontlik ná die wennersdinee bekend gemaak word.
Die wenners in die Nasionale Boer van die Jaar-kompetisie is tydens die Beste van die Beste-aandfunksie op 13 November by Avianto in Muldersdrift aangekondig.
Geluk aan beide produsente met hulle uitmuntende prestasies.