afen

Veldaanvullings

Voermol Voere vervaardig ’n wye reeks melassegebaseerde aanvullings wat in die behoeftes van herkouers op enige tipe weiding sal voldoen.

Onderhoudslekke (Proteienlekke)

Die beperkende voedingstof wat met ’n onderhoudslek aangevul word, is proteïen wat hoofsaaklik deur ureum voorsien word. Tydens vervaardiging word die ureum eers in melassestroop opgelos en dan in die fi nale produk ingemeng. Hierdie proses hou die volgende voordele in:

  • die eweredige verspreiding van ureum in die fi nale produk;
  • wanneer die lek sou natreën, kom ureum saam met melasse in oplossing wat die gevaar van ureumvergiftiging verlaag;
  • die lae pH van Voermolprodukte verseker dat ureum, in die grootpens, stadiger tot ammoniak afbreek. Gevolglik word ammoniak stadiger geabsorbeer en word die voorkoms van ureumvergiftiging verlaag;
  • die energie in melasse is onmiddellik vir die mikrobes in die grootpens beskikbaar. Dit verseker doeltreffende benutting van ureum en verlaag dus die gevaar vir ureumvergiftiging;
  • melasse is ryk aan kalium wat matig lakserend is, gevolglik help dit om “droëgalsiekte” in diere op droë weiding te voorkom;
  • melasse is smaaklik en verseker dat lekke nie stowwerig is nie, sodoende word die voorgeskrewe lekinname bevorder.

Voermol onderhoudslekke verskaf die belangrikste spoorminerale waarvan daar ’n tekort in weiding mag voorkom. Verder is die spoorminerale noodsaaklik vir optimum eetlus en vrugbaarheid. Voermol onderhoudslekke is nie stowwerig nie, gevolglik word windverlies tot die minimum beperk.

Mineraallekke

Die beperkende voedingstof wat deur mineraallekke aangevul word, is fosfor asook spoorminerale. Groenweidings is gebrekkig aan minerale, veral wanneer diere se massa toeneem. Mineraallekke moet dus aan diere op groenweiding gevoer word.

Oorgangslek

Die voorsiening van ’n oorgangslek met die oorgang van groen gras na droë gras bevorder die produksie en reproduksie van koeie omdat dit massa- en kondisieverlies beperk.

Produksie- en Enegielekke

Produksie- en energielekke word gebruik om energie asook proteïen, minerale en spoorminerale aan te vul. Produksie- en energielekke word gewoonlik aan produserende diere (koei met kalf, ooi met lam of groeiende diere) as lekaanvulling gevoer.

Lekkeuse

Die volgende faktore moet by die keuse van ’n lek in gedagte gehou word:

  • kwaliteit en kwantiteit van weiding;
  • tipe weiding (soet-, suur-, of bossieveld);
  • tipe dier (bees, skaap, bok of herkouer wild);
  • produksiestatus van die diere wat wei (groei, lakteer, droog);
  • seisoen.

So word die beperkende voedingstof of voedingstowwe geïdentifi seer en deur ’n lek sinvol aangevul.

L.W. Lekke dien slegs as aanvulling van die beperkende voedingstof of voedingstowwe tot weiding en is nie ’n voer nie. Lekke word slegs aanbeveel wanneer daar voldoende weiding of ander ruvoer beskikbaar is.

Lekinname

Die minimum en maksimum lekinname word vir elke produk voorgeskryf (die aanbevole lekinname). Indien lekinname van die voorskrif afwyk, moet daar na ’n ander lek verander word. Gewoonlik verloop dit vanaf ’n onderhoudslek na ’n produksielek wat gepaard gaan met hoër inname.

Met lae lekinname (minder as 50 g/skaap/dag en 240 g/bees/dag), is die riglyne ’n maksimum van 50 skape of 25 beeste per lekbak of lekblok of minstens 25 mm lekbakspasie per skaap en 50 mm per bees.

Met medium lekinname (meer as 100 g/skaap/dag en 400 g/bees/dag), is die riglyn ’n maksimum van 25 skape of 15 beeste per lekbak of lekblok of minstens van 50 mm lekbakspasie per skaap en 100 mm per bees.

Met hoë lekinname (meer as 250 g/skaap/dag en 1 000 g/bees/dag), is die riglyn ’n maksimum van 15 skape of 10 beeste per lekbak of lekblok of minstens 75 mm van lekbakspasie per skaap en 150 mm per bees.

Hierdie is algemene riglyne om te verseker dat die diere die aanbevole hoeveelheid lek vreet vir optimale respons. Lekbakspasie moet egter na gelang van omstandighede (bv. baie groot kampe, veral dié met net een watersuiping) aangepas word.

Lekprogram

Lekke vorm ’n groot deel van die insetkoste in veeboerdery. Indien lekke oordeelkundig gebruik word, is dit baie kostedoeltreffend. Volg dus ’n goed beplande lekprogram. In oorleg met ’n veearts, volg ’n doseer- en inentingsprogram, insluitend van Klostridium spp. veral vir skape en bokke.

Gehalte veevoer inligting binne jou bereik

Laai die Voermol-toep af