Top Hereford-koeie op kikoejoe-weiding van John Eustace se wen-kudde.
Prominente Brahman-tipe verse afkomstig van John Eustace se Brahman en Hereford kruisteelprogram.
Dr. Josef van Wyngaard, Voermol Voere
Een van die doelwitte van die Nasionale Bees- en Skaapboer van die Jaar projek is om die bestuurspraktyke van suksesvolle bees- en skaapboere prakties aan medeboere bekend te stel tydens boeredae. Twee suksesvolle boeredae was gedurende April en Mei in die wenners se onderskeie streke aangebied.
Waardetoevoeging, die optimale benutting van tegnologie en goeie bestuur van natuurlike hulpbronne het die wenners van die 2018 ‘Beste van die Beste’, Nasionale Bees- en Skaapboer van die Jaar-kompetisie, onderskei. Die 2018 Nasionale Beesboer van die Jaar was Mnr John Eustace van die plaas Moyeni in die Underberg-distrik, en die 2018 Nasionale Skaapboer van die Jaar was Mnr. Andrew Jordaan jr. van die plaas Spekboomberg in die Cradock-distrik. Beide hierdie wenners het indrukwekkende boeredae aangebied.
John Eustace se boeredagJohn se boeredag op 10 April 2019 was uitstekend ontvang, met sowat 160 besoekers wat teenwoordig was. Nadat die formaliteite afgehandel was het John sommer self die dag met sy lesing afgeskop. Hy het onderandere die geskiedenis van hulle beeskudde se voortbestaan met ons gedeel en so ook oor sy suksesvolle veldbestuur en ander bestuurspraktyke, insluitende die voerkraal, gesels.
Dawie Maree, hoof van inligting en bemarking by FNB Landbou, het oor volhoubare rooivleisproduksie en gunstige bemarkings-strategieë vir die beesbedryf in Suid-Afrika gesels. Ulrich Müller en Dr. Josef van Wyngaard, tegniese bestuurders by Voermol, het onderskeidelik oor die waardetoevoeging van die plaasvoerkraal en die geheim agter ‘n suksesvolle koei-kalf stelsel gesels. Na die lesings het John verskeie van sy top beeste in groepe vertoon.
John en sy pa Mnr. Pat Eustace boer met Braford- en Hereford-koeie in die bergagtige suurveld met ‘n gemiddelde weidingkapasiteit van 2 ha/grootvee-eenheid (GVE). Natuurlike bergagtige veld is die hoof ruvoerbron vir dié beesboerdery, gevolg deur aanvullende kontantgewas-reste. Bestuurspraktyke soos strategiese brand van veld, voervloeibeplanning en waardetoevoeging deur die afronding van kalwers in ’n voerkraal is slegs van die faktore wat tot sy sukses bydrae.
Hy wys dat dit nie net moontlik is om in bergagtige hange met beeste te boer nie, maar ook hoe om daarin te presteer.
Herefordbulle word by die Brahman-tipe koeie gebruik, terwyl die Hereford-tipe koeie deur Brahmanbulle gedek word. Die maatstaf vir die seleksie van Herefordbulle is melkeienskappe, pigmentasie en konformasie. In die geval van Brahmane is dit konformasie. Die koeie begin in Augustus vir ’n tydperk van drie maande kalf wanneer hulle na die laer geleë dele verskuif word met ’n rantsoen van hooi en mielie- en boontjiereste. Bergveld word van 15 Julie af gebrand. ’n Driekampstelsel word gebruik wat elke twee weke afgewissel word. Elke tien jaar word ’n kampstelsel vir ’n jaar lank gerus.
Die kalwers word in April gespeen en sal in Mei na die winterweiding met ’n winterlek op die veld verskuif word. John mik na ’n besettingsyfer van minstens 85%. Die uiterste toestande in die berge en die voorkoms van skadelike diere (soos luiperd en bruin hiëna) beperk die speensyfer van die kudde vanaf ’n suksesvolle dragtigheidstoets tot 90%. John rond ál sy uitskotdiere in ’n voerkraal af. Ligter kalwers word tot sowat 220 kg op raaigras wat tussen die mieliereste geplant is uitgegroei voor afronding in voerkraal.
Die pragtige uitsig van John Eustace, 2018 Beesboer Wenner, se boeredag in die Underberg-distrik.
Mnr Andrew jr. Jordaan besig met sy praatjie oor sy suksesvolle bestuurspraktyke tydens sy boeredag.
Andrew Jordaan jr. se boeredag.
Andrew jr. se boeredag op 29 Mei 2019 was ook baie goed ontvang met sowat 200 besoekers wat die dag bygewoon het. Boere en organisasies het oral oor die land gekom om die dag by te woon. Dit was ‘n baie suksesvolle dag met goeie sprekers.
Dawie Maree (FNB) het oor gunstige bemarkings-strategieë vir die skaapbedryf in Suid-Afrika gesels, gevolg deur Isak Staats, hoof van wol en bokhaar by BKB, wat oor internasionale wolnuus gesels het. André Fourie, Voermol konsultant, het oor die onderwerp van ‘Voer of nie’ gesels. Hy het uitgelig dat dit wel in ‘n skaapvertakking ekonomies vatbaar is om strategies te voer. Dr. Buks Olivier, skaapteling spesialis konsultant, het oor die betekenis van aangepaste vee gesels en hoe dit jou skaapboerdery kan bevoordeel. Andrew jr. het die lesings afgesluit deurom sy suksesvolle bestuurspraktyke met die gehoor te deel.
Andrew jr. bestuur die skaapafdeling van ‘n suksesvolle gediversifiseerde familieboerdery. Die area het ’n gemiddelde reënval van 350 mm per jaar en ‘n weidingkapasiteit van 2 ha/kleinvee-eenheid (KVE), maar die veelading van die plaas is 2.8 ha/KVE en dit neem die natuurlike bergveld weiding in ag. Merino is die kern skaapras. Aangeplante weiding is ’n sterk komponent van die voerbank en daar word gewys hoe dit optimaal bestuur en benut kan word.
Die gebruik van tegnologie is hier baie belangrik en Andrew gee die pas aan in die skaapbedryf deur onder meer al 30 jaar lank laparoskopie te gebruik. Verder word daar streng op rekordhouding gefokus waar radiofrekwensie-identifikasiestelsels(RFID) gebruik word. Tesame met grondige voedingspraktyke en bestuursbeginsels bereik die boerdery ’n lampersentasie van tot 170%.
Die besproeide aangeplante weiding dra by tot die sukses van dié skaapboerdery. ‘n Rotasiekampstelsel met hoëdrukbeweiding word hier suksesvol toegepas. Die volwasse ooie word in die suur bergveld hoog bo seevlak gedek, waar goeie besetting op die platogedeelte bereik word. Daar is twee lamtye, asook ’n derde winterlamtyd vir ooie wat klaar gelam het en laparoskopies behandel word. Die kudde-ooie word natuurlik gedek met een ram per 30 ooie.
Dormer-ramme word gebruik in die geval van terminale-kruise. Lamhokstelsels word gebruik. Die onlangse besetting van die kudde-ooie was sowat 97% met 63% meerlinge, teenoor ’n gemiddelde langtermyn besetting van sowat 91%. Die jong ooie word al op 12 maande laparoskopies bevrug. Hulle oorwinter in die veld. Sowat ses weke voor paartyd word hulle verskuif na die weidings waar hulle teen skadelike diere beskut is.Teeldoelwitte sluit vrugbaarheid en die balans tussen wol- en vleisproduksie in.
Ons by Voermol kan sien hoe medeboere die vrugte pluk nadat hulle so ‘n boeredag bygewoon het. Daarom sien ons baie uit om te sien wat 2019 se Nasionale Bees- en Skaapboer van die Jaar projek gaan oplewer.
From the left are Wilhelm Jordaan, (Brother of Andrew Jr), Leon de Klerk, (Voermol Sales Manager), André Fourie, (Voermol Consultant), Dawie Maree, (Head of Information and Marketing at FNB Agriculture), Andrew Jordaan Jr, (2018 Sheep Farmer of the Year), Andrew Jordaan Sr, (Father of the winner), Kenny Crampton, (Voermol National Sales Manager), Dr. Buks Olivier (Sheep breeding specialist and consultant), and Gert Smit, (Merino Breeders Society President).
Andrew Jordaan Jr’s sheep farmers’ day was held in a large white tent on their planted pastures.