Dit is tot die veeprodusent se voordeel om met ’n veevoedingkundige saam te werk om pasmaak voedingstrategieë te ontwikkel wat op spesifieke boerderybehoeftes gebaseer is. ‘n Gekwalifiseerde voedingkundige kan help om lek- en voerprogramme te optimaliseer sodat dit by die kliënt se boerdery-opset, bestuurstyl en skaal inpas. Die resultaat is verbeterde veeproduksie en uiteindelik ’n groter inkomste vir die produsent.
Die voedingkundige se taak Voedingkundiges sal hul kliënte se veevoedingspraktyke volledig assesseer met die oog op waardetoevoeging tot die betrokke onderneming. Hulle sal in die algemeen na die volgende aspekte kyk – dit is alles noodsaaklike boublokke vir die formulering van lekke/voer volgens die produsent se behoeftes:
- Die kliënt se produksiestelsel.
- Hoe die kliënt hierdie stelsel bestuur.
- Hoeveel diere op die plaas loop.
- Wat die doel van daardie diere is.
- Watter hulpmiddels die kliënt op die plaas beskikbaar het.
- Watter arbeidsbronne tot die kliënt se beskikking is.
‘n Paar tipes produkte word aangewend vir pasmaak formulerings op die plaas. Die kategorieë waarin die gewildste produkte voorkom is konsentrate (wat meng op die plaas vereis), aanvullings (kan net so gevoer word), en voormengpakke. Konsentrate bevat normaalweg nieproteïenstikstof (NPN), medikasie (hoewel nie altyd nie), en minerale. Aanvullings kan in verskillende kategorieë verdeel word (soos instandhouding of produksie, wat afhang van die tipe weiding), terwyl voormengpakke uit mineraal- en vitamienmengsels bestaan wat medikasie kan insluit.
Hierdie kriteria sal bepaal watter produkte jou voedingkundige sal aanwend. Sodra die voedingsprogram geformuleer en gekommunikeer is, word dit die kliënt se taak om die plan volgens die nodige instruksies uit te voer. ’n Goeie voedingsplan berus uiteindelik op doeltreffende uitvoering en bestuur.
Uitvoering en bestuur: Meng
Wanneer ’n rantsoen of lek gemeng word, moet die produsent seker maak dat die korrekte toerusting gebruik word, sodat ’n konsekwente finale produk volgens die formulering gelewer word. In die geval van plase of voerkrale met ’n groot aantal diere, is dit dikwels meer kostedoeltreffend om hoogsgekonsentreerde produkte te gebruik, maar dan moet die mengwa of meganiese menger in staat wees om voer homogenies teen groot volumes te meng. Proteïenkonsentrate wat nie reg bestuur word nie, kan gevaarlik wees; hulle bevat groot hoeveelhede NPN en soms ook medikasie soos ionofore. Professionele mengers is duur en slegs opgeleide werkers behoort daarmee te werk. Indien dit nie moontlik is nie, oorweeg eerder klaargemengde aanvullings wat net so gevoer kan word.
Aanvullings wat in konsentraatvorm gevoer moet word, moet op die plaas met voerbestanddele soos graan en sout gemeng word. Hierdie produkte is in die algemeen veiliger en moet deeglik op ’n plat oppervlakte met ’n graaf gemeng word. Die metode verg nie meganiese mengtoerusting nie maar is arbeidsintensief.
Uitvoering en bestuur: Voer
Die voedingstrategieë vir lekke en volledige voere verskil, en die voedingkundige sal die kliënt voorsien van riglyne oor hoe vee gevoer moet word. ’n Paar duimreëls vir ‘n veilige voerproses behels:
- Moenie die diere vir te lang tye sonder lek of aanvullings laat nie, veral wanneer hulle aanvullings ontvang wat hoë hoeveelhede NPN bevat, soos instandhoudingslekke op droë weiding.
- Maak seker dat die diere toegang het tot genoeg ruvoer, tensy jy ander spesifieke instruksies ontvang het.
- Vars, skoon water moet vrylik beskikbaar wees.
- Verseker voldoende voerbakspasie vir die aantal diere wat jy wil voer (dit hang af van die inname van lek of aanvulling).
- In die geval van volledige (klaar) voere mag die voerbakke nie vir lang tye leeg staan nie, aangesien dit metaboliese siektes kan veroorsaak – handhaaf konsekwente voedingstye en -roetines.
Jou vee moet die geleentheid kry om behoorlik aan te pas by ‘n volledige voer. Gaan die voerbakke na om seker te maak dat vee nie selektief vreet nie. Sortering is ’n aanduiding dat die vee nie die dieet inneem soos geformuleer nie. Hierdie gedrag kan vererger indien voer in die bakke skei. Skeiding van voer in voerbakke gebeur meestal wanneer die ruvoer nie tot die regte lengte gesny is nie, en dan met ’n fyn meel gemeng word.
Voersukses
Uiteindelik is dit baie belangrik dat die voer of lek wat die herkouer vreet dieselfde is as wat oorspronklik geformuleer is. Indien die meng en bestuur van hul voer nie op ’n goeie standaard is nie, sal die vee nie na wense presteer nie.



