Oesreste is ‘n onontbeerlike skakel in die voervloeiprogram van baie veeboere, veral in die oostelike, suurvelddele van die land waar veldweidings in die winter baie lae weidingswaarde het. Die persentasie ruproteïen van gespaarde winterveld wissel van 3,5% tot 5,3% terwyl dié van mielieresteweiding van 6% tot 8,6% is. Die verteerbare organiese materiaal (VOM) vir gespaarde winterveld is van 50% tot 53% en vir mieliereste is die totale verteerbare voedingstowwe (TVV) van 60% tot 84%.
Die veelading op oesreste, volgens dr. Josef van Wyngaard,tegniese bestuurder by Voermol, hang van baie faktore af, onder andere plantdigtheid en opbrengs, tipe kultivar, oesmetode en klimaatsfaktore soos droogtes.
Hoewel daar geen twyfel is nie dat oesreste ‘n waardevolle en goedkoop voedingsbron vir vee in die winter is, waarsku hy egter dat daar ‘n paar moontlike probleme kan voorkom wanneer vee sonder voorbereiding op die lande gejaag word. Dit sluit in suurpens of asidose by graanoesreste as gevolg van ‘n oormaat stysel; blaasstene by mielie-oesreste as gevolg van ‘n oormaat fosfor; opblaas by peulgewasoesreste as gevolg van hoë vlakke oplosbare proteïen; blousuurvergiftiging wanneer jong plantlote gevorm word weens hergroei as gevolg van laat-reën en warm temperature; jodium-tekorte by brassica oesreste (soos kool en blomkool) weens anti-voedingsfaktore wat jodiumopname oor ‘n langweiperiode kan benadeel; ‘n tekort aan spoorminerale asook vitamiene A; en hoewel nie algemeen nie, ook verstik aan mieliekoppe, heel groentes soos wortels en aartappels en knolle.
Met korrekte bestuur en lekaanvulling kan al hierdie voedingsprobleme en -tekorte egter opgelos word en kan die potensiaal van oesreste as winterweiding ten volle benut word.
Die tipiese voervloeibeplanning vir vee in die somersaaigebiede, sê hy, bestaan uit herfsveld tot in April, sojareste vanaf April tot Mei/Junie, mieliereste in Junie tot September/Oktober en dan somerveld.
Sojabone
Hoewel dit reeds laat in die seisoen is en sojaboonreste waarskynlik reeds opgebruik is, gee Josef tog ‘n paar riglyne by die gebruik van sojaboon-oesreste, omdat dit so ‘n belangrike skakel in die voervloeiprogram van baie boere in die oostelike dele van die land verteenwoordig.
Rou sojaboon het ’n hoë proteïeninhoud (ongeveer 36%), maar het sekere beperkings in die vorm van antivoedingsfaktore soos tripsien- en chemotripsien-inhibeerders asook ’n laag verteerbare aminosuurprofiel. Dit veroorsaak dat lammerooie op sojareste dik en taai biesmelk het, min melk produseer en gevolglik swakgroeiende lammers het. Die regte lekaanvulling moet dus gegee word om die beperkinge te oorkom.
Ureum moenie in lekke en rantsoene ingesluit word waar rou sojabone gebruik word nie. Die urease-aktiwiteit in rou sojabone veroorsaak dat ureum vinnig na ammoniak omskakel wat aanleiding tot ureumvergiftiging gee.
Volwasse skape benut sojareste baie goed omdat hul behoefte aan deurvloeiproteïen baie laer is as dié van lakterende ooie en lammers.
Waar baie sojapitte op ’n land lê, oorvreet skape hul maklik en vrek aan nitraatvergiftiging. ’n Gelykmatige aanpassing oor minstens 14 dae en ‘n korrek-geformuleerde lek is noodsaaklik om hierdie risiko te beperk.
Mieliereste
Die energiewaarde van vars gestroopte mielielande is hoog, met totale verteerbare voedingstowwe (TVV) van 60% tot 84%, veral waar ’n redelike hoeveelheid graan vermors is. Die hoeveelheid graan wat ná die oes agterbly kan tussen 1% en 5% van die oesreste uitmaak. Die riglyn is dat vir elke 1 ton graan ge-oes, daar ongeveer 1 ton oesreste beskikbaar is. Die veelading-riglyn vir onderhoud op mieliereste is 1.5 tot 2 GVE/ha vir 80 tot 100 weidae en 8 tot 10 KVE/ha vir 90 tot 110 weidae, met ‘n gegewe graanopbrengs van tussen 3 en 4 t/ha.
Skape en beeste benut die fyner komponente, soos graan en blare eerste, daarom is die risiko vir suurpens baie hoog in die eerste paar weke veral as die diere voor die tyd nie goed aangepas is nie. Verder is dit ook bekend dat die fosfor-inhoud in mielies teenoor die van winterveld relatief hoog is. Hoë fosfor-innames oor ‘n verlengde periode kan lei tot die vorming van blaasstene veral by skape. ’n Verdere probleem met mieliereste is dat die ruproteïen-inhoud marginaal tot laag is, veral vir diere met ’n hoë voedingsbehoefte soos jongdiere en lakterende diere.
Beweiding van mieliereste moenie ten koste van langtermyn-graanproduksie geskied nie, waarsku hy egter. In ‘n langterymstudie oor 17 jaar is bevind dat die graanopbrengs met 280 kg per hektaar gedaal het (5,33 t/ha teenoor 5,61 t/ha) waar alle reste verwyder is, vergeleke met proefpersele waar geen reste verwyder is nie. By bogenoemde veelading word ongeveer 40 tot 50% van die reste verwyder. Meer as die helfte van die reste word dus op die land gelaat vir instandhouding en opbou van organiese materiaal. Indien reste nie bewei word nie, verdwyn ongeveer 21% oor die winter weens wind en verwering.
Die energiewaarde van varsgestroopte lande is hoog, veral waar ’n redelike hoeveelheid graan vermors is. Die hoeveelheid mielies op ’n varsgestroopte land wissel baie, maar hoeveelhede van 100 tot 300 kg/ha is aangeteken en navorsing met behulp van slukdermgefisteleerde skape toon aan dat ’n skaap tot 800 g mielies binne ’n halfuur vreet.
Aanpassing
Skape wat nie op graanvoeding aangepas is nie, ontwikkel suurpens, wat groot verliese kan veroorsaak. ’n Verdere probleem met mieliereste is dat die proteïenwaarde marginaal tot laag is, veral vir diere met ’n hoë voedingsbehoefte soos lammerooie, vleisbeeskoeie met kalwers, speenkalwers en speenlammers. Tekorte aan kalsium, magnesium, sink, koper en selenium (veral op rooi gronde) kom ook voor.
Gebruik dus ‘n lek wat spesifiek hierdie voedingstekorte en voedingsprobleme aanspreek, beveel Josef aan. Maak seker die lek wat jy gebruik bevat die regte buffers om suurpens te beperk en bevat anioonsoute om by hamels en ramme blaassteenvorming te voorkom. Dit moet ook ‘n medium verbyvloeiproteïeninhoud bevat. Dis ideaal as die lek ‘n melassebasis het wat goeie inname sal verseker en nie met die Augustuswinde sal wegwaai nie.
Verdere bestuurmaatreëls om suurpens te voorkom, behels gelykmatige aanpassing op mielies. Gee die lek vir minstens 14 dae vóór jou skape op die mielielande gaan en pas mielies gelykmatig op die veld met volop ruvoer aan. Begin met 200 gram mielies of mieliekoppe per kleinvee-eenheid per dag en verhoog elke tweede dag met 100 gram. Weityd kan ook beperk word, maar dit is nie so doeltreffend soos die gelykmatige verhoging in mielievoeding nie.
Die aanpassingsperiode van skape wat mielies ken, kan aansienlik verkort word deur hulle met LacticonS te doseer. Navorsing toon aan dat droë speenkalwers van goeie gehalte met ’n aanvulling van 1 kg korrek-geformuleerde lek per dag, tot 1,2 kg per dag oor ʼn weityd van 60 dae groei. Vir die eerste vier weke op varsgestroopte lande met heelwat graan op groei lammers tot 260 g per dag, maar die groei plat af namate graan uitgevreet raak. Afhangend van die gehalte en groeipotensiaal van diere, kan tot 100 kg lewende massa per hektaar met speenkalwers geproduseer word – nagenoeg dieselfde hoeveelheid met skape en tot 13 kg skoon wol per hektaar met dubbeldoelskape van ’n goeie gehalte. Hierdie produksiedata wys op die waarde van mielieresteweiding, mits die regte bestuur toegepas word.



