
SS 200
Produk Kode: V8592
VOERMOL SS 200 is ’n afrondingskonsentraat vir die afronding van lammers, skape en bokke en vir uitgroei van jong diere. Meng Voermol SS 200 met mieliemeel of heel garspitte en ruvoer.
Waar die kragvoermengsel en ruvoer ad lib., maar afsonderlik gevoer word, maak van die “VOERMOLSTELSEL” gebruik. (sien p. 53 en 54). Hierdie voedingstelsel het die volgende voordele:
- Diere pas maklik aan, aangesien hulle ’n hoë ruvoerrantsoen in die aanpassingsperiode (± 30 % ruvoer) verkies en al meer konsentraat vreet soos hulle aanpas. Dit gee uiteindelik ’n gemiddelde ruvoerinname van min of meer 15 % van die totale rantsoen, bereken oor die hele afrondingsperiode, wat uitstekende voeromset verseker;
- die maal of meng van ruvoer is onnodig en gevolglik word daar op maal- en mengkoste bespaar;
- die kragvoermengsel (200 kg SS 200 + 800 kg grane) kan ook op volop droë veld gevoer word om diere af te rond wat die koste van ’n voerkraal en die baal van ruvoer bespaar.
Voermol SS 200 bevorder inname aangesien dit smaaklik gemaak is deur die byvoeging van melassestroop:
- bevat medikamente wat voeromset met tussen 10 – 15 % mag verbeter en dus die winsmarge verhoog;
- bevat ’n mengsel van hoë kwaliteit natuurlike proteïenbronne wat ideaal is vir die afronding van skape en uitgroei van jong diere;
- kan ook as kruipvoer aangewend word. Die hoë kwaliteit natuurlike proteïeninhoud plus medikamente is vir die jong dier tot groot voordeel;
- help ook om koksidiose by diere te beperk;bevat medikamente wat massatoename versnel en voeromset verbeter;
- bevat ’n anioonsout om blaassteenvorming te beperk;
- bevat die sewe belangrikste spoorminerale en Vitamien A om die prestasie van diere verder te verbeter.
Om doeltreffende voerbenutting te verseker, is dit noodsaaklik dat diere ingeënt en gedoseer word en dat ’n oorinplantaat (groeistimulant) gebruik word. Diere moet altyd stadig en geleidelik oor ’n 10 – 14 dae periode op die voerkraalrantsoen aangepas word. Addisionele ruvoer moet tydens die aanpassingsperiode ad lib. voorsien word. Begin met 100 g van die Voerkraalrantsoen per dier op die eerste dag en verhoog dit elke dag daarna met 100 g/dier. Volg ’n inentings-program vir voerkraalsiektes soos deur ’n veearts voorgeskryf word.
Voermol SS 200 het ten doel om moeitevrye en koste-doeltreffende afronding van diere te verseker.