Tydens die lente- en somermaande is die veld oor die grootste gedeelte van Suid Afrika groen en vol voedingstowwe. Dit is die tyd van die jaar wat die boer grotendeels op die veld kan staatmaak vir die meerderheid van sy diere se voedingsbehoeftes. Alhoewel die veld in hierdie tyd goeie makronutriënte bevat, soos totale proteïen en vesel wat vir onderhoud en lae produserende diere voldoende is, is daar nogsteeds belangrike voedingstowwe wat vir hoë produserende diere ontbreek. Optimale mineraalvlakke, energie en veral deurvloei proteïen is van die belangrikste voedingstowwe wat ontbreek. Met die korrekte aanvullende lek kan die laas genoemde ontbreekte voedingstowwe baie maklik en doeltreffend aan die dier voorsien word.
Minerale
Daar is 14 essensiële minerale wat belangrik is as dit kom by herkouervoeding. Verder word hierdie minerale volgens die hoeveelheid wat deur die dier vereis word, in twee groepe verdeel, naamlik: makro- en mikrominerale, of spoorminerale. Makrominerale sluit kalsium, fosfor, natrium, chloor, kalium, magnesium en swael in. Mikrominerale sluit kobalt, koper, sink, selenium, mangaan, jodium en yster in. Oor die algemeen, is groenvoer, soos groenweiding, ‘n goeie bron van kalium en yster, gebrekkig in natrium, en bevat varierende vlakke van die res van die 11 essentiële minerale. Mineraalvlakke in groenweiding is baie kompleks en kan dus nie veralgemeen word nie. Dit is afhanklik van verskeie faktore soos pH en vrugbaarheid van grond, bemesting, plantspesie en -volwassenheid, seisoen en klimaat, besproeide water, en atmosferiese insette. Byvoorbeeld, grond met ‘n lae pH (< 6.0) mag die absorbsie van fosfor, kalium, swael, kalsium, magnesium en selenium by plante beperk. Máár dit mag egter die absorpsie van yster, mangaan, koper en sink verhoog. Sanderige gronde is ‘n swak bron van minerale weens lae organiese materiaal inhoud en waterhouvermoë.
Peulgewasse is oor die algemeen ‘n beter bron van minerale, uitsluitende mangaan, as grasse. Op groen somerweiding is fosfor oor die algemeen die belangrikste tekort, maar ‘n tekort in sekere spoorminerale kan ook voorkom. Die besproeiing van groenweiding met afval- of miswater mag die vlakke van koper, mangaan en yster in grond verhoog, maar dit kan maklik opbou en toksies vir die plant en dier wat dit vreet, raak. Atmosferiese mineraal insette kan ook in sekere gevalle belangrik wees. In hoë-reënval gebiede, spesifiek naby aan die kus, kan natrium en jodium deur reën oorgedra word.
Die gebruik van organiese spoorminerale maak al hoe meer geraas in die veebedryf. Dit is amper 100% opneembaar teenoor die tradisionele anorganiese spoorminerale wat selde bo ‘n opneembaarheid van 50% kom. Gevolglik word diereprestasie aansienlik verhoog, veral by die kalf of lam wat nog nie eers gebore is nie.- generasievoeding.
Dit is belangrik om te weet wat die mineraal-status in jou spesifieke area is. Al die essensiële minerale is direk of indirek gekoppel aan die dier se immuniteit, reproduksie en produksie (groei, vleis- en wolproduksie). Daarom kan korrekte, strategiese mineraalaanvulling diere se algemene status, reproduksie en produksie drasties verbeter.
Energie
Die grootste beperkende faktor in groenweiding vir hoë produserende diere met ‘n hoë voedingsbehoefte is energie. Hierdie tipe diere sluit groeiende lammers, lakterende ooie en veral wolproduserende skape in. ‘n Kenmerk van lente- en somerveld is dat die produksie en gehalte van die veld afhanklik is van reën. Die somerreënvalgebiede word gekenmerk deur afwisselende korter droogtetydperke waartydens veldgehalte vinnig agteruitgaan. Dit veroorsaak dat die groei van byvoorbeeld lammers afneem. Daarom vir maksimum en konstante produksie vanaf hierdie diere op groenweiding is dit uiters belangrik om hulle te voorsien met addisionele energie-aanvulling soos byvoorbeeld mielies. Let wel, wanneer optimale diereproduksie gejaag word, sal ‘n produksielek die beste werk, omdat dit energie- en mineraal-aanvulling, asook vitamien-aanvulling, kombineer.
Proteïene
Groenweiding is gewoonlik hoog in totale proteïen-inhoud wat enige iets van 15 tot 25% kan wees. Aangeplante weiding soos raaigras en peulgewas-mengsels het gewoonlik ‘n totale proteïen-inhoud van bo 20%, waar grasmengsels wat swenkgras of kropaargras bevat, ‘n totale proteïen-inhoud van 15 tot 20% het. Daar moet wel klem gelê word op die proteïensamestelling van groenweidings. Proteïen afkomstig van groenweiding bestaan hoofsaaklik uit nieproteïenstikstof (NPN). Die dier kan nie self NPN na aminosure (die boublokke van vleis, wol en melk) omskakel nie – dit is waar die rol van mikrobes in die grootpens of rumen belangrik is. Nieproteienstikstof is ‘n baie belangrike voedingstof vir mikrobes, wat onder andere verantwoordelik is vir die afbreek en vertering van vesel. Die mikrobes gebruik die aminosure, wat hulle vanaf NPN gevorm het, om hul eie populasies te groei. Dié aminosure raak wel beskikbaar vir die dier wanneer van die mikrobes deur spoel vanaf die rumen na die dier se spysverteringskanaal – vandaar die naam deurvloeiproteïen. Máár hierdie hoeveelheid deurvloeiproteïen is nie alleenlik genoeg vir maksimum groei, melkproduksie en wolproduksie by hoë produserende diere nie. Dit is dus raadsaam om ‘n strategiese deurvloeiproteïen-aanvulling met ‘n sterk mineral-komponent aan hoë produserende diere beskikbaar te stel.
Samevatting
Die lente- en somermaande is ‘n goeie tyd vir boere om te kapitaliseer op die goeie weiding wat beskikbaar is, natuurlik of aangeplant, solank hulle besef dat daar steeds tekortkominge op hierdie weidings is. Deur hierdie tekortkominge te identifiseer en dan strategies die korrekte aanvullings vir hul diere te gee, sal help om uitstekende produksie teen ‘n minimale koste te bereik.



