Talle kalf-produseerders sal saamstem dat die moeilikste tyd van kalwers groot maak, in die eerste maand of wat na geboorte is. Die hoogste getal moraliteite word hier gemeld, maar indien die regte bestuur toegepas word, kan die kalweroes verhoog word. Teen die einde van die dag is die doel om ‘n hoë gehalte karkas aan die mark te lewer, wat tot die ekonomiese voordeel van die boerdery sal strek. Om mislukking in so ‘n stelsel te verlaag moet kalwers die regte voeding op die regte tye ontvang, gehuisves word in ‘n gemaklike omgewing en nie siek word nie.
Die grootpens (oftewel rumen) van ‘n volwasse kalf dryf die produksievermoë wat hy op die einde van die dag gaan bereik, maar die grootpens is nie van die staanspoor gerat om ruvoer te verwerk nie. Grootpens ontwikkeling moet dus as ‘n kolskoot beskou word – daar is slegs een kans om dit goed en reg te doen. Daar is drie belangrike fases wat grootpens-ontwikkeling aanbetref en gaan kortliks hier onder beskryf word.
- Die melk-fase: Gedurende dié fase is die kalf hoofsaaklik afhanklik van volmelk of ‘n melksurogaat om in sy voedingsbehoeftes te voldoen. Die fase strek vanaf na geboorte (waar die kalf natuurlik eers biesmelk moet inkry om immuniteit te verkry) tot ongeveer twee tot drie weke se ouderdom. Dit is voordelig indien die kalf al op twee weke se ouderdom toegang verkry tot ‘n kalfpil of kalfaanvangsmengsel.
- Die oorgang-fase: Gedurende dié fase begin die kalf al hoe meer afhanklik word van die kalfpil of kalfmeel om in sy voedingsbehoeftes te voldoen, maar melk vorm steeds ‘n belangrike komponent van die dieë Die oorgang-fase kom tot ‘n einde wanneer die kalf gespeen word. Dié fase is baie belangrik vir grootpens-ontwikkeling, alhoewel dit klaar in die eerste-fase sou begin het. Die rede hiervoor is dat die kalfpil of kalfmeel fermenteer in die grootpens, wat daartoe lei dat vlugtige-vetsure (VV) geproduseer word. Bottersuur is ‘n belangrike vlugtige vetsuur wat geproduseer word, en stimuleer gevolglik die ontwikkeling van papillae op die grootpens-wand. Die byvoeding veroorsaak terselfdertyd dat die spiere van die grootpens bevorder word en die grootpens as orgaan verhoog in volume, om lywige voere te akkommodeer. Slegs hooi in hierdie stadium van ontwikkeling is nie voldoende om in die voedingsbehoeftes van die kalf te voorsien nie. Die energie wat afkomstig is van die vertering daarvan is beide nie genoegsaam en oneffektief (omrede die mikrobiese omgewing nie goed genoeg ontwikkel is nie) .
- Die herkouer-fase: Dié fase begin sodra die kalf gespeen word en dui daarop dat die kalf nou as ‘n herkouer geklassifiseer kan word. Die grootpens is teen die punt redelik ontwikkel en huisves ‘n verskeidenheid van mikrobes. Die mikrobes stel die kalf dan in staat om ruvoer effektief te gebruik om in sy voedingsbehoeftes te voldoen. Indien die groei van kalwers op weiding bespoedig moet word, word dit sterk aanbeveel om ‘n aanvulling ook te voorsien (teen beperkte inname).
Die tydperk voor speen is belangrik vir die groei en ontwikkeling van die kalf se raam asook die spiere-stelsels; wat uiteindelik die kalf wat bemark word sal beïnvloed. As gevolg van die hoë voedingsbehoeftes om groei te ondersteun, moet kalwers toegang kry tot ‘n kalfmeel of kalfpil van hoë gehalte. Die ru-proteïen inhoud van só ‘n aanvulling sal aanvanklik naby 20-21% in die eerste fase wees en dan daal na ongeveer 15-16% soos die kalf meer volwasse raak. Daar moet ook ‘n deurvloei-proteïen komponent wees in die bogenoemde aanvulling, omrede die kalf se grootpens mikrobes nie genoeg ontwikkel is om slegs gebruik te maak van nie-proteïen-stikstof (NPN) bronne, bv. ureum nie.
Sodra die kalf die gepaste gewig in die herkouer fase bereik het om voerkraal toe te gaan, moet die kalf geënt word vir voerkraal siektes om morbiditeite en mortaliteite te verhoed. Die voerkraal-fase begin met ‘n aanvangs rantsoen, gevolg deur ‘n groei rantsoen en word dan afgesluit met ‘n afrondings rantsoen. Die verskil tussen die drie verskillende voerkraal rantsoene is dat die proteïen inhoud van die rantsoene verlaag en die energie inhoud verhoog soos die kalf deur die fases vorder. Groei-inplantate word ook strategies deur die loop van die voerkraal (of “backgrounding”) periode gebruik om doeltreffende groei te ondersteun. Groei-inplantaat programme verskil tussen plase, maar word gewoonlik met die aanvangsperiode toegepas of as die diere op weiding loop in ‘n “backgrounding“ stelsel. Indien die kalwers lank genoeg in die voerkraal staan, kan ‘n tweede groei-inplantaat strategies gebruik word.
Die sukses van ‘n kalf-grootmaak stelsel lê geberg in die strategiese gebruik van die regte voedings programme, gesondheidsbeheer en goeie bestuur. Moet nie laat gister se foute, jou môre duur te laat staan nie.



