In die suiwelbedryf word daar dikwels verwys na droë koeie en daar is al baie hieroor geskryf, maar in die vleisbeesbedryf is dit nie ’n aspek wat baie aandag geniet nie, ten spyte van die feit dat ’n vleisbeeskoei ook ’n droë stadium ervaar wanneer sy ophou om melk te produseer nadat sy haar kalf gespeen het.
Hierdie is eintlik ’n kritieke tydperk waarin die koei en haar uier kans kry om te herstel voor die volgende produksiesiklus weer begin.
Goeie bestuur van droë vleisbeeskoeie is baie belangrik
Ashley Grimsell, tegniese bestuurder van Voermol sê hoewel vleisbeeste nie dieselfde volume melk produseer as melkbeeste nie, moet die koei se uier steeds fisiologies herstel nadat haar kalf gespeen is, sodat sy haar volgende kalf weer met sukses kan speen.
“Gedurende hierdie droë tydperk kry die produsent die geleentheid om die koei se liggaamskondisie reg te stel sou sy baie kondisie verloor het tydens die laktasieperiode. Dit is veral belangrik om te verhoed dat die koei oorvoer word en te veel kondisie optel omdat dit toekomstige kalwing kan bemoeilik. As die koei nie goed genoeg kondisie kan herwin nie, kan dit moontlik haar sukses in die daaropvolgende teelseisoen beïnvloed. Sy mag langer vat om weer dragtig te raak of sy mag dalk selfs nie weer beset raak nie. Indien die koei ook moeilik kalf (as gevolg van mineraal tekorte of wanbalanse,) mag dit haar herbesetting ook negatief beïnvloed,” gesels Ashley verder.
Lengte van die droë periode
Die droë periode van vleisbeeskoeie verskil van plaas tot plaas afhangend van die bestuursprogram wat toegepas word.
Ashley verduidelik dat die droë periode begin nadat die kalf gespeen is. “Die kalf word gewoonlik op 7 tot 8 maande gespeen en indien die koei elke jaar ’n kalf , soos wat dit behoort te wees, sal die die periode oor ’n tydperk van 2 tot 3 maande strek, voordat sy weer moet kalf.
Dit is ’n belangrike tyd vir goeie bestuur van die koeikudde omdat die ongebore kalwers aandag moet kry en die koeie ’n bietjie gepamperlang moet word sodat haar kalftyd maklik en suksesvol kan geskied en sy vinnig weer kan herstel vir ’n volgende besetting. Die bestuur van voeding speel hier ’n uiters belangrike rol
Voeding is krities belangrik
Die droë tydperk van ’n dragtige koei is oor haar laaste trimester. Dit moet egter onthou word dat ’n droë koei se voedingsbehoeftes laer is as wanneer sy lakteer, maar die voedingsbehoeftes verhoog weer in die laaste maand voor sy kalf, of in die droë periode.
“In hierdie tyd word daar dikwels nie na die gehalte van die weiding opgelet nie, maar dit dra die meeste by tot die totale dieet van die vleisbeeskoei. Daarom gaan die gehalte en tipe weiding die aanvulling bepaal,” vertel sy.
Die voeding in hierdie droë tyd ondersteun die ontwikkeling en groei van die ongebore kalf.
“Spier- en vetweefsel het ’n laer prioriteit vir voedingstowwe as orgaan ontwikkeling, So, as die koei hier tekorte ervaar, is die kanse goed dat dit die toekomstige prestasie van die kalf gaan belemmer. Voeding is veral belangrik in die laaste maand voor die koeie kalf, omdat die kalf dan die meeste groei,” verduidelik sy verder.
Haar raad aan produsente wat sukkel met kalfprobleme is om 21 dae voor kalftyd aan die koei Anioon soute en minerale soos magnesium te gee om die kalwingsproses te vergemaklik.
Verseker ’n gesonde koei en kalf
Ashley beklemtoon egter ook dat goeie voeding bestuur nie net vir dié kritieke tyd gebêre moet word nie. Inteendeel, dit moet reg deur die jaar reg bestuur word. Die regte lekke moet op weidings aangevul word en ’n volledige plan moet gevolg word.
Sy verduidelik dat as die koei tekorte gedurende dragtigheid ervaar gaan dit die kalf se groei- en karkaspotensiaal beïnvloed as die kalf na ’n voerkraal toe gaan. As die kalf op die plaas agterbly, mag voedingstekorte gedurende dragtigheid veroorsaak dat die kalf nie tot sy volle genetiese potensiaal presteer nie.
Haar raad is om ’n reg deur die jaar ’n ordelike en volledige lekprogram te volg.
“Die doel van ’n lek is nie om jou weiding te vervang nie, maar eerder aan te vul wat kortkom in die weiding. Dit is veral belangrik in die laaste 30 dae voor die koeie kalf en die daaropvolgende 70 dae van vroeë laktasie. Dit is die kritiese 100 dae wanneer dit by die vleisbeeskoei se produksie kom en kan ook die droë vleisbeeskoei se kondisie en prestasie beïnvloed,” is haar mening.
Die belangrikheid van goeie bestuur van droë koeie
Ashley beklemtoon die belangrikheid van goeie bestuur van droë koeie.
“Hoe beter jy ’n droë koei bestuur, hoe beter gaan haar produksie in die daaropvolgende siklus wees. Sou sy tekorte ervaar sal dit aan die eenkant nadelig wees vir haar reproduksie, omdat sy dalk ’n jaar mag oorslaan. Aan die ander kant kan voedingstekorte ook nadelig wees vir die kalf. In beide gevalle gaan die produsent aan die kortste ent trek.



