Die voerkraal is die laaste punt wat die koei-kalf siklus voltooi. Hier is waar die produsent beloon word, vir die belegging in top-genetika van sy vleisbeeskudde, mits hy/sy self voer. Om beeste in ‘n voerkraal af te rond moet nie ligtelik opgeneem word nie; omrede winsgewendheid bepaal word afhangend van die beesprys (speenkalf, os of C-graad prys), die graanprys en die vleisprys. In verskillende fases van die voerkraal periode, word daar meer klem gelê op die groei van verskillende weefsels, wat deur die rantsoen en bestuur beïnvloed word.
Veldafrondstelsel
Veldafrondstelsels (“backgrounding”) het in gewildheid gegroei, omrede die kalf die voerkraal swaarder betree, kalwers pas makliker in die voerkraal aan, dit verlaag morbiditeite en mortaliteite en omrede stresvlakke laer in die diere is, sien mens nie die negatiewe effek op voerinname nie. Die norm is dat kalwers in ‘n veldafrondstelsel gehou word tot hulle ‘n gewig van 220-240kg bereik het. Maar, dit mag voordelig wees om kalwers selfs swaarder op die stelsel uit te groei, ten doel om die voerperiode te verkort. Dié kalwers of osse (wat uit ‘n osboerdery kom) betree die voerkraal dan tussen 320-350kg. Dit is ongewens dat kalwers in ‘n veldafrondstelsel uitermatige hoë groeitempos ervaar. Figuur 1 onder dui aan watter weefseltipe ontwikkel soos die bees al hoe swaarder word. Sou beeste in ‘n veldafrondstelsel ‘n groeitempo van meer as 1.2kg/dag handhaaf, gaan hulle vinniger vet begin neerlê ten koste van raam- en spierontwikkeling, op ‘n laer liggaamsmassa. Die rede hiervoor is dat die kurwe “links skuif”. Na afloop van die veldafrond periode, gaan die beeste voerkraal toe, met die doel om ‘n mark-geskikte karkas te lewer. Dit sluit die verdunning van geelvet met wit vet in, wat ongeveer 30-90 dae kan neem. Dié tydperk word beïnvloed deur verskillende faktore, naamlik:
- Kleur van die vet wanneer beeste die voerkraal betree (geelheid); dié kan ook deur ras en voeding beïnvloed word
- Hoeveelheid vet wat in die voerkraalperiode neergelê word
- Die tempo van gebruik van karotenoïede van die liggaamsvet

Aanvangs, Groei en Afrond Fase
Die aanvangsfase duur gewoonlik 14 dae in die voerkraal. Klem word hier gelê op die aanpassing van kalwers, osse of c-grade tot ‘n volvoer rantsoen. Die groei fase in die voerkraal is waar daar op die raampotensiaal wat vroeër neergelê is, gebou word. In dié fase word daar hoofsaaklik spiere (karkas) ontwikkel (rooi stippel lyn in Figuur 1 bo). Vir kalwers of osse, kan die periode tussen 60-100 dae duur, afhangend van huidige liggamsmassa en teiken eindmassa. Beeste skuif gewoonlik oor na die afrondfase na die infleksiepunt bereik word (in Figuur 1 bo is dit waar vetmesting spier neerlegging verbygaan). Vir C-grade omrede hul alreeds volwasse liggamsmassa bereik het, spring hulle die groei fase verby en betree slegs die vetmesting fase (swart soliede lyn in Figuur 1 bo). Dit duur gewoonlik 50-70 dae, afhangend van die ligaamskondisietelling wat die koei die voerkraal binnegaan. Vir kalwers en osse, duur die afrond fase gewoonlik 30-40 dae, met dieselfde doel as koeie, om die karkas mark-gereed te kry.
Voeding & Bestuur
Die oorgang van beeste deur die verskillende voerkraalfases sluit tipies rantsoen veranderings in proteïen- (raak laer nader aan afrond), energievlak (raak hoër nader aan afrond) en veselinhoud (raak minder nader aan afrond). Om raam en spierontwikkeling te ondersteun, verg dat goeie gehalte deurvloei proteïen bronne in die rantsoen van beeste ingesluit word, dié vlakke verkil ook tussen fases. Vesel lengte en deeglike voer vermenging van die rantsoen is belangrik om suurpens te voorkom (verminder sortering) en grootpens gesondheid te ondersteun. Water word gewoonlik nagelaat, maar speel ‘n kritiese rol in die voerinname wat gerealiseer word. Suiwer, skoon en koel drinkwater moet ten alle tye beskikbaar wees vir voerkraal beeste. Tesame met die bestuur van water, is voerbak bestuur. Beeste moet ten alle tye toegang tot voer hê om metaboliese steurnisse te verlaag. Bakke moet nie oorvol wees, wat veroorsaak dat die voer oud (muf) of galsterig raak en moet gereeld skoon gemaak word. Beeste moet deurlopend dieselfde tyd van die dag gevoer word (hulle is diere van gewoonte) en drastiese rantsoen veranderings moet vermy word.
Die voerkraal moet gesien word as waardetoevoeging tot die bees. Dit kan lonend wees, mits die regte aankope gemaak is en bestuur reg toegepas word.



