Die vetmesting van beeste moet oorweeg word, wanneer produsente waarde wil toevoeg tot hulle kalweroes. Produsente moet marktoestande en voerpryse noukeurig naslaan, voordat so ‘n besluit geneem word, omrede dit winsgewendheid beïnvloed. Veral as dit slegs ‘n seisoenale en nie permanente instelling op die plaas gaan wees nie.
Fase voeding
Die vetmesting van beeste word gewoonlik in drie fases opgedeel, alhoewel dit partykeer meer voordelig is om slegs een rantsoen (‘n groei-rantsoen) te voer omrede dit die bestuur vergemaklik. Fasevoeding word toegepas om die bees se voedingsbehoeftes meer akkuraat aan te vul en vermorsing van voedingstowwe te beperk. Die fases sal onder beskryf word.
Aanvangsfase
Die aanvangsfase duur gewoonlik 14 dae in die voerkraal. Klem word hier gelê op die aanpassing van kalwers, osse of c-grade tot ‘n volvoer rantsoen. In die geval van kalwers, sal die rantsoen ‘n hoër proteïen inhoud (en dus ook deurvloei proteïen bron bevat), wat raam groei en ontwikkeling sal ondersteun. Die rantsoen bevat ook tipies meer ruvoer as die groei rantsoen, en het dus ‘n laer energie waarde om die aanpassing tot die voerkraal te vergemaklik.
Groeifase
Die groei fase in die voerkraal is waar daar op die raampotensiaal wat vroeër neergelê is, gebou word. In dié fase word daar hoofsaaklik spiere (karkas) ontwikkel. Vir kalwers of osse, kan die periode tussen 60-100 dae duur, afhangend van huidige liggamsmassa en teiken eindmassa. Die groeirantsoen is tipies laer in proteien en vesel as die aanvangs rantsoen, en beskik oor ‘n hoër energieinhoud (d.w.s. die graaninhoud is hoër ). Vir C-grade, omrede hul alreeds volwasse liggamsmassa bereik het, spring hulle die groei fase verby en betree slegs ‘n vetmesting fase, wat met ‘n groei of afrond rantsoen kan voltooi word. Dit duur gewoonlik 50-70 dae, afhangend van die ligaamskondisietelling wat die koei die voerkraal binnegaan.
Afrondfase
Die afrond rantsoen bevat die laagste proteïen inhoud en ruvoer inhoud, en ter selfde tyd die hoogste energie waarde van al die rantsoene. Die rantsoen mag ook Zilpaterol bevat, wat karkas toename en uitslag persentasie verhoog. Die doel is om vetmesting te ondersteun en die karkas so vinnig moontlik mark-gereed te kry. Beeste skuif gewoonlik oor na die afrond fase na ‘n sekere aantal dae in die voerkraal voltooi is of sodra ‘n gewenste liggaamskondisie bereik word vir die fase om te begin. Vir kalwers en osse, duur die afrond fase gewoonlik 30-40 dae.
So paar wenke in die voerkraal is veranderings in voer toelaag, die voeding van beeste en ruvoer gehalte word hier onder bespreek.
Verandering in voer toelaag
Die doel in ‘n voerkraal is om beeste se droë materiaal inname te maksimeer; beeste wat vreet is beeste wat groei. Wanneer die hoeveelheid voer wat aan beeste voorgesit word verhoog of verlaag word, word dit aanbeveel dat dit by ‘n standaard hoeveelheid verander word. Dit is gewoonlik 4-6% van droë materiaal inname wat gelykstaande is aan 250-375g voer op ‘n droë materiaal basis, vir kalwers wat gemiddeld 250kg weeg. Sou die hoeveelheid voer wat voorgesit word vandag verander word, moet die produsent twee tot drie dae wag, voor die hoeveelheid weer verander word.
Voer van beeste
‘n Duim reël vir die voer van beeste is as volg; ‘n derde van die beeste in ‘n kamp moet voerbakke toe beweeg wanneer die voerkar verby kom, ‘n derde moet by die voerbakke staan en ‘n derde moet slegs geïnteresseerd wees om na die voerbakke te beweeg. Indien al die beeste in ‘n kamp die voerbakke bestorm wanneer die voerkar verby kom, is dit ‘n aanduiding dat hulle nie genoeg, gereeld genoeg gevoer word nie. Nog ‘n teken van ongereelde voer tyding/ ondervoeding is as beeste voerbakke “blink” lek voor die voer kar verby kom. Die gedrag mag baie negatiewe gevolge inhou vir die spysverteringstelsel omrede dit tot metaboliese steurnisse (soos suurpens) en permanente grootpens skade mag lei.
Ruvoer in die voerkraal
Ruvoer en of kuilvoer gehalte is van uiterse belang in die voerkraal. Die rede hiervoor is die lae insluiting daarvan in die rantsoen en die belang vir grootpens- en algehele bees gesondheid. Ruvoer of kuilvoer moet skoon van muf en behoorlik geberg en bestuur word . Die kerflengte van ruvoer is ook belangrik en moet noukeurig gemonitor word.
Die vetmesting van beeste in die voerkraal kan belonend wees vir die produsent, mits dit reg beplan en bestuur word.



