Ruvoer is ’n baie belangrike voerkomponent in die herkouerbedryf. Dit maak meer as 90% uit van ‘n veldbees of-skaap se dieet, tussen 6% en 30% van ‘n voerkraal se rantsoen en tussen 40% en 70% van ‘n melkkoei se dieet. Algemene ruvoerbronne sluit natuurlike weiveld, hooi, strooi, staande hooi, kuilvoer, oesreste, groenvoer en aangeplante weiding in. Van die laas genoemde is natuurlike weiveld verseker die goedkoopste ruvoerbron, mits dit reg bestuur word. Kwaliteit en beskikbaarheid van weiveld is wisselvallig en word deur baie faktore soos klimaat, grondtipe, grondvrugbaarheid, brand en die dier beinvloed. Daarom is korrekte veldbestuurbeplanning en die uitvoer daarvan, ‘n voorvereiste vir optimale gebruik (doeltreffende rus en benutting) van natuurlike weiveld.
Weiveld kan in breëveldtipes geklas word volgens die struktuur van die plant-gemeenskap asook die produksie-eienskappe van die plant, wat weidingkapasiteit en seisoen van benutting insluit. In SuidAfrika is daar drie breëveldtipes naamlik soetveld, suurveld en gemengde veld. Kortliks, soetveld is veld wat smaaklik en voedsaam bly selfs as dit uitgegroei is en suurveld voorsien slegs smaaklike plantmateriaal in die groeiseisoen (3-maande van die jaar). Gemengde veld lê tussen die twee uiterstes en varieer van soet-gemengde veld (9 tot 11 maande per jaar weibaar) tot suur-gemengde veld (6 tot 8 maande per jaar weibaar). Elk van hierdie breëveldtipes het unieke veldbestuurspraktyke. Hierdie artikel gaan nie focus op veldbestuurpraktyke nie maar meer op veldbestuurbeplanning. Vir meer inligting oor veldbestuurspraktyke vir verskillende breëveldtipes kan die volgende boek nageslaan word: Veld management in South Africa (geredigeer in 1999 deur Professor Neil Tainton).
Die proses van veldbestuurbeplanning begin by die onderverdeling van veld in kampe, hetsy dit nou ‘n nuwe stuk grond is of ‘n bestaande stuk grond is. Die volgende ses stappe is handig in die onderverdeling van veld in kampe en kan ook help met die besluitneming om die spesifieke stuk grond aan te koop of nie:
- Kry ‘n lugfoto van die stuk grond. Dit kan verkry word by die Departement van Landbou of die Landmeterskantoor. Stap/ry die plaas deur.
- Skei lande, veld en geërodeerde dele op die lugfoto/kaart.
- Skei die hoofveldsoorte, soos bergveld, vlakteveld en leegteveld van mekaar. Dit is die veldsoorte wat die meeste van mekaar verskil.
- Verdere onderverdeling van hoofveldsoorte in veldsoorte. Dit word gedoen op basis van eenvormigheid ten opsigte van:
- Topografie – aansig en steilte van helling
- Plantegroei – dominante komponente soos gras, bossies en bome asook die gewenstheid van die botaniese samestelling
- Grond – grondtipe, oppervlak eienskappe en erosiepotensiaalWanneer die getal onderverdelings onprakties raak, kan van die ongewenslike groepe by gewenste groepe in kampe saamgevoeg word bv. ‘n klein stuk suurveld met ‘n groot stuk soetveld.
- Kyk na die toestand van die veld. Swak veld kan tydelik afgekamp word.
- Kyk laaste na die gerieflikheidsfaktor, makliker veebestuur, water, kampvorm en dreinering.
Beplanning is nie eenmalig nie, die moontlikheid vir verdere uitbreiding en onderverdeling moet in gedagte gehou word. Hoekom is die onderverdeling van veld in kampe so belangrik? Voordele van die onderverdeling van veld in kampe sluit die volgende in:
- Maak voorsiening vir die behoeftes van elke veldsoort ten opsigte van rus en beweiding
- Maak voorsiening vir die behoeftes van die spesifieke dier veral tydens produksie, onderhoud en droogte
- Bekamp aanhoudende en selektiewe beweiding
- Verseker beter en meer egalige benutting van die plant
- Bekamp gronderosie
- Verseker groeikragtigheid van die plant
- Vergemaklik voervloeibeplanning
In my opinie is meer en kleiner kampe altyd voordelig. Want dit verkort die weiperiode per kamp en verleng die rusperiode per kamp, mits die bestuur korrek is. Dit is ideal om weiperiodes tot 7 (maks 10) dae in die groeiseisoen te beperk. Hierdie beginsel verhoed dat herontblaring van plante plaasvind en tot gevolg beskerm dit die groeikragtigheid van die plant. Die langer rusperiodes verseker algemene veldverbetering ten opsigte van saadproduksie, vestiging van saailinge en vermindering van kaalkolle. Verder word vertrapping en voetpadtjies beperk. Die nadeel van meer en kleiner kampe is natuurlik die koste aspek en die instandhouding daarvan, maar ons weet dat ‘n goed geoliede masjien beter en langer loop.
Watervoorsiening is die volgende stap in veldbestuurbeplanning en kan maklik praktiese probleme skep. Ideale watervoorsiening vereistes sal die volgende insluit:
- Verkieslik meer as een waterpunt:
- in groot kampe
- waar met skape en beeste saam geboer word
- Sentrale waterpunt
- Hoek van kamp nie verder as 1.5 km van waterpunt af wees nie
- Goeie kwaliteit water
- Waterlewering moet gebaseer wees op toekomstige uitbreiding
- Beton blad 1 tot 2 m radius om waterpunt
Korrekte veldbestuurbeplanning is van kritiese belang vir beide ekstensiewe en intensiewe veeboerderye wanneer daar na volhoubare hulpbronne, winsgewindheid en gerieflikheid gestreef word.



