1. Waarom is kruipvoer belangrik by kalwers?
Kruipvoer hou nie net voordele vir die kalf in nie, maar ook vir die koei. Om die kalf te voorsien met kruipvoer, gaan rumenontwikkeling bevorder word. Dit gebeur as gevolg van die vlugtige vetsuur-produksie wat in die grootpens (rumen) plaasvind, wat papilla-vorming-en-ontwikkeling (in terme van lengte) stimuleer. Deur papillaontwikkeling te stimuleer, kan voordelig vir die kalf wees soos die kalf ouer word; omrede die oppervlak vir absorpsie verhoog word. Kalwers kan ook eerder vroeër of swaarder gespeen word, en hetsy hulle voerkraal toe gaan, is hulle beter aangepas (omrede hul alklaar aan ‘n konsentraat bloodgestel word). Vir die koei, beteken dit dat minder van haar reserwes gebruik moet word, dus word haar ligaamskondisie gespaar.
2. Op watter ouderdom moet kruipvoer gegee word?
So jonk as moontlik,maar party boere mag verkies om dit te gee as die kalwers eers so maand oud is.
3. Wat is die belangrike faktore wat in ag geneem moet word as jy besluit om kruipvoer te gee of nie?
Is daar fasiliteite beskikbaar waar die kruipvoer gevoer kan word (kruiphekke moet opgesit word, sodat koeie nie toegang tot die kruipvoer kry nie.) Kan die kruipvoer gereeld uitgesit word (elke tweede of derde dag) sodat dit vars, en dus smaaklik vir die kalwers bly. Dit moet ook bekostigbaar vir die boer wees, om kruipvoer te voer. Dit word alhoewel sterk aanbeveel vir eerstekalf koeie se kalwers, omrede die koeie se melkproduksie in algemeen laer is as ‘n volwasse koei, en om die diere se liggamskondisie te spaar. Dit mag net tot voordeel strek vir die eerstekalfkoei se volgende dekseisoen (die diere het gewoonlik laer konsepsie syfers, en dit word tot ‘n groot mate deur hul liggaamskondisie bepaal.)
4. Tot op watter ouderdom moet kruipvoer gegee word? Wanneer is die kalf sterk genoeg vir homself in die veld te sorg?
Daar is ‘n wanpersepsie wat bestaan wanneer dit by kruipvoer kom. Kruipvoer vervang eintlik net ‘n deel van die ruvoer wat die kalf van die veld af inneem en nie die melk wat van die koei af kom nie, in kalwers wat nog suip.
Kruipvoer kan gegee word totdat die kalf gespeen word. ‘n Koei se melk produksie piek tussen 30-56 dae, waarna dit begin afneem vir die res van laktasie. Dus bestaan‘n kalf se dieet hoofsaaklik uit melk tot op 90 dae van ouderdom. Na 90 dae (sowat 3 maande se ouderdom) sal die meerderheid van die kalf se voedingsbehoetes deur die veld voorsien word, mits die gehalte van die veld goed is.
5. Wanneer daar in ’n goeie reënjaar genoeg kos in die veld is, is dit steeds nodig om kruipvoer te gee?
Alhoewel die gras gedurende ‘n goeie reënjaar dig staan, kan dit beteken dat die voedingswaarde van die veld laer is as ‘n jaar met gewone reënval. Dus sal dit eintlik meer van belang wees om in só ‘n jaar kruipvoer te voorsien, omrede koeie minder voedingstowwe uit die veld kan benut, en melkproduksie en gehalte, swakker kan wees. Die gras se voedingswaarde is ook dus laer vir kalwers, so om ‘n aavulling op dié veld te gee, sal net tot voordeel van die kalf strek.
6. Het die kondisie van die koei ’n invloed op die hoeveelheid kruipvoer wat die kalf moet kry?
Die kalf se ligaamsmassa sal eerder sy inname van kruipvoer beïnvloed, maar as ‘n koei se melkproduksie vinniger begin afneem a.g.v haar kondisie, sal ‘n kalf heel waarskynlik meer kruipvoer, op ‘n jonger ouderdom begin vreet.
7. Het die gebruik van kruipvoer ’n invloed op die herkonsepsie van die koei?
Dit kan ‘n indirekte effek op die koei se herkonsepsie hê, omrede die kalf nie net van die koei en die veld afhanklik is om in sy voedingsbehoeftes te voldoen nie. ‘n Koei moet ten minste in ‘n liggaamskondisie van 3 (verkieslik 3.5) gedurende die volgende paarseisoen wees. As haar kondisie nie reg is nie, gaan sy nie ovuleer, en dus weer beset raak nie.
8. Is die gebruik van kruipvoer voordelig vir kalwers wat voerkrale toe gaan?
Ja dit is, omrede die kalwers alreeds bloodgestel word aan ‘n konsentraat, sal hul makliker in die voerkraal aanpas. As kalwers ook swaarder speen a.g.v kruipvoer, sal dit ook tot die kalf se voordeel in die voerkraal strek (‘n swaarder kalf is geneig om minder siek te word).
9. Hoe lyk die ideale samestelling van goeie kruipvoer vir kalwers?
Kruipvoer is hoog in ruproteïen (12-18% ruproteïen op ‘n droëmateriaal basis). Die ruproteïen moet ook gewoonlik ‘n natuurlike proteïenbron insluit, wat van uiterse belang is vir jong kalwers se groei en ontwikkeling. ‘n Goeie kruipvoer bevat ook ‘n energiekomponet (byvoorbeeld mieliemeel) en kan ook melasse of lusern bevat, wat inname sal bevorder.
10. Wat is die eienskappe van goeie kruipvoer?
‘n Goeie kruipvoer is smaaklik, nie stowwerig nie en vrylik (ad lib) beskikbaar vir kalwers. Kruipvoer bestaan uit hoë gehalte gronstowwe, wat smaaklik moet wees om inname te verseker.



