af

Meng van Voere op die Plaas

Die meng van voere op die plaas is sy eie kuns. Sodra herkouers vanaf ekstensiewe, weiding-gebaseerde stelsels na kleiner kampe of krale geskuif word vir voorbereiding of afronding, berus die verantwoordelikheid van ordentlike voervermenging by produsent.

Die rantsoen wat aan die herkouer gevoer word, moet so na moontlik aan die een wees wat deur die voedingkundige geformuleer word, aangesien die herkouer se behoeftes en produksie verwagting gedurend formulasie in ag geneem word.

Verloop van Voervermenging

Die orde waarin verskillende roumateriale die mengwa ingaan is van uiterse belang. Die volgende volgorde is gewens (van begin tot einde):

  1. Ruvoer
  2. Kuilvoer
  3. Graan
  4. Oliekoek
  5. Konsentraat
  6. Vloeistowwe (soos melasse of water)

Sou die produsent klein hoeveelhede van ‘n produk moet inmeng (<10kg) is dit gewens om dit eers met 50kg graan ordentlik te meng, en dan by stap 3 by te voeg.

Kerflengte van ruvoer

Ruvoer, gewoonlik ‘n kleiner komponent (persentasie-gewys) van volvoere, speel ‘n uiterse belangrike rol in die gesondheid van die herkouer se spysverteringstelsel. Ruvoer, wat reg gekerf word, stimuleer die herkouer om te herkou, wat belangrik is om die optimale pH van die grootpens te handhaaf en produksie te ondersteun. Hoewel party rantsoene genoeg ruvoer mag bevat, indien dit te fyn gekerf word, veroorsaak dit dat daar nie genoeg fisiese “krap” is om herkou te stimuleer nie.  Die teenoorgestelde is ook waar; indien die kerflengte van ruvoer te lank is, mag dit lei tot “uitsoek” gedrag , wat tot suurpens kan gevolg. Sodra uitsoek ‘n faktor word, is dominante diere gewoonlik die wat grootliks geaffekteer word; hulle vreet meer kragvoer as ruvoer. Daarom moet die kerflengte van ruvoer noukeurig bestuur en gemonitor word.

Vir veseldeeltjies om effektief in die grootpens agter te bly en te “krap” (en nie verder af in die spysverteringskanaal te beweeg nie), benodig beeste veseldeeltjies van ten minste 4mm en skape 1.8mm. Dus, word dit aanbeveel dat die ruvoer se kerflengte in beeste se rantsoene ongeveer 50-70mm is en dit van skape (waar lusern gebruik word), ongeveer 10mm is. Beeste het ‘n beter vermoë (as gevolg van hulle grootpenskapasiteit en ander faktore) om swakker-tipes ruvoer beter te verteer as skape. Skape besit weer ‘n beter vermoë om hoë energie roumateriale (soos grane) te verteer.

Die “ideale” ruvoerbron?

Lusern is ideaal in ‘n skaapvoerkraal rantsoen en koringstrooi ideaal in ‘n beesvoerkraal rantsoen. Ander ruvoer bronne soos byvoorbeeld Tef, smutsvingerhooi of veldgras, kan ook in rantsoene vir beeste en skape aangewend word, maar die insluiting sal verskil namate die gehalte van die ruvoer en die produksiedoel van die herkouer. Gesels met jou voedingkundige hieroor.

Wees waaksaam oor die mengproses

Wanneer ruvoere gekerf word, laat die mengwa toe om die ruvoer eers deeglik te kerf, voor die volgende roumateriaal bygevoeg word. Maak ook seker dat die kerflemme van die menger nog doeltreffend kerf. Die mengtyd van verskillende ruvoere gaan verskil, waar beter gehalte ruvoere vinniger fyner gekerf word as swakker gehalte ruvoere. Ruvoere wat tipies “taai” is (breek nie maklik nie) of die wat “voëlnessies” in die mengproses vorm, mag ook nie ordentlik gekerf word nie en in die rantsoen uitskei. Hier word dit aanbeveel om ‘n kombinasie van twee ruvoer bronne te gebruik, om die negatiewe gevolge hiervan te verhoed of om die mengproses te hersien.

Produsente moet ook waaksaam wees om nie voere te “oormeng” nie. Dit gebeur wanneer die rantsoen te veel tyd in die voermenger deurbring, wat mag veroorsaak dat die rantsoen in die menger skei. Dit sal ook uitsoek gedrag veroorsaak, al is die ruvoer lengte en -insluiting, korrek. Doen ondersoek in voermengers en maak seker dat daar nie “dooie” kolle in die mengwa is, waar roumateriale nie ordentlik ingemeng word nie. Wat hier tipies gewaar word, is dat kolle graan in voerbakke uitgegooi word, veral as die mengwa by die eerste of laaste kraal of kamp, die voer uitgooi. Om die mengwae op ‘n gelyke oppervlak te hou tydens vermenging kan die voorkoms van “dooie” kolle verlaag word.

Bemeester die kuns van voervermenging en ondersteun optimale prestasie van herkouers.

Geskryf deur
Ashley GrimsellTegniese Bestuurder · Voermol Voere

Quality livestock nutrition information at your fingertips

Download the Voermol APP here