Al ooit gestaan en wag vir ‘n bus wat nie opdaag nie? Net om tevergeefs te besef dat jy die tyd verkeerd gehad het en die bus verpas het? Die voeding van bulle volg die selfde prinsiep.
Om goeie kuddevare te waarborg, moet jong bulle ordentlik uitgroei en ontwikkel. Die impak van bulle op die teelkudde is noemenswaardig. Een bul kan tot 25-60 kalwers per teelseisoen bydrae. Bulle moet fiks wees, ‘n goeie liggaamskondisietelling handhaaf en siekte-vry wees om ekonomies op die plaas by te dra. Om ‘n program vir bulle uit te werk, noodsaak dat bulle volgens ouderdom gegroepeer word, dus kan hul voedingsboehoeftes reg aangespreek word. Tesame, moet bulle vroegtydig voorberei word, hetsy vir die teelseisoen of vir die veiling, om te verhoed dat onnodige druk op die produsent, asook die bul geplaas word. Bulle moet ten alle tye ‘n matige groeitempo handhaaf, om te verhoed dat vrugbaarheid belemmer word.
Ontwikkeling van Bulle
In-utero
Alle bulle se ontwikkeling begin by die dragtige koei. Koeie moet gedurende dragtigheid geen tekorte ervaar nie, wat direk die ontwikkeling van die ongebore bul gaan beïnvloed. Klem word veral op die laaste trimester van dragtigheid gelê, waar ongebore fetusse meer as 70% kan groei. Voeding of omgewingstres (wat hittestres insluit) gedurende mid-laat dragtigheid mag moontlik die toekomstige reproduksie potensiaal van ongebore bulle belemmer.
Voor geslagsrypheid (puberteit)
Die belangrikste fase in enige bul se lewe is voor hy geslagsrypheid bereik (5-25 weke se ouderdom). Gedurende dié tydperk, ontwikkel die geslagsorgane en gepaardgaande kliere, wat die langtermyn vrugbaarheid van die bul gaan beïnvloed. Die fase gaan ook die ouderdom bepaal wanneer die bul puberteit bereik .
Die ontwikkeling sluit in:
- Die getal Sertoli-selle (selle verantwoordelik vir die ontwikkeling van spermselle) word vasgestel voor speen, wat die leeftyd sperm-produksie vermoë van die bul beïnvloed.
- Groei van die testis (m.a.w. verhoogde volume van die testis, dus kan groter sperm reserwes gehuisves word).
- Volwasse Leydig’s-selle: verantwoordelik vir die produksie en vrystelling van testosteroon.
Indien bulle voor ses maande ouderdom voedingstekorte ervaar, kan dit nie later in die bul se lewe reggestel word deur voeding nie. Jong bulle wat voor ses maande wanvoeding ervaar sal dus langer vat om geslagsrypheid te bereik. Bulle wat vanaf eerstekalf-koeie gespeen word, mag ook vertraagde geslagsrypheid ervaar omrede dié groep koeie tipies verlaagde melkproduksie toon. Kruipvoer is ‘n oplossing om goeie ontwikkeling by jong bulletjies te verseker voor speen. Die kruipvoer inname moet gemonitor en gereguleer word, sodat oorvoeding nie plaasvind nie (indien kruipvoer inname 1.5% van liggaamsmassa oorskry, moet dit beperk word). Oorvoeding mag lei tot verlaagde sperm- produksie en gehalte.
Speen tot jaar ouderdom; 3 jaar-oue bulle
Vanaf speen tot 12-15 maande ouderdom, is dit ideaal dat jong bulle ‘n groeitempo van niks meer as 1.1kg handhaaf nie. Teen die ouderdom van 14-15 maande , moet bulle ten minste 50% van hul volwasse liggaamsmassa bereik het. Vanaf 15 maande tot ‘n 3 jarige ouderdom, is dit ideaal dat bulle tussen 0.9-1kg per dag groei. Dié groeitempos kan op goeie-gehalte weidings behaal word met die aanwending van die regte aanvullings.
Kuddevaar
‘n Onvrugbare bul mag veroorsaak dat daar verlaagde konsepsie, ‘n verlengde kalfseisoen, verlaagde geboortemassa (a.g.v. die verlengde teelseisoen), en die aantal koeie wat uitgeskot word, vermeerder. Volwasse bulle benodig nie voedings-digte voere soos jonger bulle nie, omrede hulle meer voer vreet en is opmerklik meer bestand teen voedingstres en vrugbaarheids probleme wat deur voeding veroorsaak word. Bulle moet ten minste 60 dae (verkieslik 90 dae) voor die teelseisoen voorberei word, omrede spermatogenese ongeveer 61 dae in die bul neem. Enige stres (wat koors insluit) wat die bul gedurende dié tydperk ervaar, gaan sy vrugbaarheid verlaag. Bulle mag gedurende die teelseisoen 45-90kg van hul liggaamsgewig verloor, dus moet die bulle ‘n liggaamkondisietelling van 3-3.5 voor die aanvangs van die teelseisoen bereik.
Voeding van bulle
Wanvoeding of tekorte aan water, energie en proteïen, mag die tydelike staking van spermatogenese veroorsaak. Produsente moet bulle stadig aanpas (14-21 dae), wanneer hulle gevoer word om die lewensverwagting en vrugbaarheid van die bul te ondersteun en bevorder. ‘n Paar wenke rakende die voeding van bulle gaan hier gedeel word.
Water
‘n Belangrike voedingstof is water. Indien bulle nie toegang tot skoon, koel water het nie, gaan voerinname beperk word. Bulle sal ongeveer 32-80 liter water per dag drink, afhangend van die bul se liggaamsgewig en omgewings temperatuur. Stikstof, swael en alge sal water gehalte beïnvloed.
Proteïen
Jong bulle benodig rantsoene met ‘n hoër proteïen inhoud as ouer bulle, omrede spier ontwikkeling nog plaasvind. ‘n Deurvloei-proteïen bron is ook noodsaaklik in die voere van bulle, omrede die verhoogde produksie-behoeftes van die bulle ondersteun moet word. Oormaat proteïen wat aan bulle voorsien word, veroorsaak abnormale spermselle.
Energie
‘n Goeie balans van energie word benodig in bulrantsoene, te hoë of te lae vlakke is nadelig vir geslagsdrang (libido) en vrugbaarheid. Te veel energie lei daartoe dat vet neergelê word om die geslagsorgane en nek van die skrotum. Dit bemoeilik die temperatuur regulering van die testis, wat tot abnormale spermselle lei. Nog ‘n gevolg van te veel energie in die rantsoen is suurpens. Suurpens beskadig die grootpens-wand, wat die absorpsie vermoë van die grootpens kan belemmer. Sou skade permanent wees, sal sekere dele van die rumen nooit kan herstel, wat tot verlaagde absorpsie vermoë van die grootpens lei. Dit veroorsaak dat ‘n bul op swakker voer-tipes sukkel. ‘n Indirekte effek van suurpens is die ontwikkeling van inflammasie in die kloue wat as laminitis geklassifiseer word. Bulle sukkel om te loop, en as ‘n bul nie kan loop nie kan hy nie dek nie. Tesame met laminitis kan die voorkoms van uitgroeikloue ook ooglopend word, indien hoë-graanstelsels nie effektief bestuur word nie. In jonger bulle, veroorsaak ‘n oormaat energie verswakte been en kraakbeen ontwikkeling, wat die bul se raam ontwikkeling belemmer. As riglyn moet jong bulle nie meer as 2kg se grane (in die vorm van mielies, chop of kleingrane) voorsien word op groenweidings nie.
Vesel
Bulle is geneig om voer te sorteer. Dus moet produsente waaksaam wees wanneer volvoere vir bulle gemeng word of indien aanvullings teen meer as een present (1%) van liggaamsmassa per bul per dag voorsien word. Vesel lengte moet verkieslik tussen 2-7cm wees (nie langer as 10cm), wat sortering sal vererger. Indien sortering plaasvind of die vesel te fyn gekerf word, kan suurpens en laminitis by die bulle gewaar word. Indien aanvullings teen hoë peilings aangewend word, moet dit ook verkieslik in twee voedings verdeel word of die voer moet gegee word wanneer bulle al ‘n ruk toegang tot ruvoer of weiding gekry het (bv. in die middag). Dit sal voorkom dat van die bulle hulle oorvreet aan die kragvoer.
Ruvoer moet vry wees van enige tekens van muf, wat mikotoksiene mag produseer, wat bul vrugbaarheid sal belemmer omrede testis gewig geaffekteer word.
Minerale
Kalsium (Ca) & Magnesium (Mg)
Kalsium speel ‘n groot rol in die vermoë van ‘n spermsel om ‘n eiersel te bevrug en speel ook ‘n rol in die beweeglikheid van spermselle. Tesame met Kalsium, speel magnesium ook ‘n groot rol in die bevrugtings proses.
Spoorminerale
Sink (Zn), Koper (Cu), Managaan (Mn), Kobalt (Co) en Selenium (Se)
Een van die belangrikste spoorminerale vir bulle is sink. Sink speel ‘n rol in die produksie, vrystelling en berging van hormone, soos testoteroon. Tesame, speel sink ‘n rol in die ontwikkeling van die kliere en geslagsorgane in bulle. Sink is ook noodsaaklik vir spermatogenese (produksie van spermselle) en die produksie van aanvaarbare spermselle. Sink is dus belangrik vir sperm kwaliteit en sperm beweeglikheid.
‘n Tekort aan koper veroorsaak ‘n verlaagde ejakuleer-volume, verlaagde sperm-inhoud en beweeglikheid. Mangaan is ‘n spoormineraal wat geslagsdrang en ‘n deel van testosteroon produksie beïnvloed. Kobalt, wat hoofsaaklik in die grootpens deur mikrobes gebruik word om Vitamien B12 te produseer, het ‘n uitwerking op die voerinname van bulle.
Vitamiene
‘n Tekort aan Vitamien A lei tot ‘n staking in spermatogenese, verlaagde testis omtrek en staking in die produksie van testosteroon. Bulle wat ‘n tekort aan Vitamien A ervaar, mag vertraagde geslagsrypheid toon, verlaagde geslagsdrang en verlaagde tempo van spermatogenese (en dus sperm produksie). Vitamien E , tesame met selenium, dra by tot die anti-oksidant status in die bul, wat die oorleefbaarheid van spermselle ondersteun.
Fasiliteite vir bulle
Kripspasie vir bulle moet ook reg toegeken word, indien bulle volvoer ontvang, word ‘n kripspasie van 20-30cm per bul vereis. Bulle wat slegs ‘n kragvoer ontvang benodig tussen 75-90cm se kripspasie, per bul. Navorsing wys dat bulle wat 680kg weeg, 74 m2 per bul se spasie in die kamp benodig.
Na bulle gevoer is
Dit is baie belangrik om enige bul wat ‘n verhoogde voedingspeil ontvang het of op volvoer was, stelselmatig weer aan te pas tot normale praktyke. Dramatiese veranderings in voeding mag nadelig wees vir sperm produksie en dus bulvrugbaarheid. Hiermee ‘n paar wenke:
- 1ste 2 weke: Goeie kwaliteit hooi + kragvoer (@1-1.5%LM, selfde kragvoer as wat gevoer was)
- Week 3-4: Veldweiding + Produksielek
- >4 weke: Skakel in by normale praktyke op die plaas
Voermol SB 100 (V4498) en Voermol Procon 33 (V12701) is veelsydige produkte, een van hul aanwendings is in die meng van volvoere of aanvullings vir bulle. Die mengsels bevat genoeg proteïen, deurvloeiproteïen, energie, minerale en spoorminerale wat in die bulle se behoeftes sal voldoen. Mengsels 3, 4 en 7 kan gebruik word om bulle te kondisioneer voor die teelseisoen of veiling. Hiermee ‘n volledige Voermol voerprogram wat vir kuddebulle gebruik kan word:
*Genoeg weiding/ruvoer moet ten alle tye beskikbaar wees |
Deur die regte voedingspraktyke betyds vir bulle te volg, sal vrugbaarheid by kuddevaars ondersteun en bevorder. Moenie die “bul-bus” mis nie.
*Verwysings op aanvraag beskikbaar.



