“Daar doer agter in ‘n kamp op die plaas, daar loop my jaar-oue bulletjies, hulle moet hout kap!” Te gereeld word hierdie stelling op die plaas teëgekom. Dié fase is gewoonlik waar jong bulle op die plaas vergeet word. Die bulletjies kom partykeer direk uit fase-C/D toetse en nou moet hulle net oorleef tot hulle oor ‘n jaar veiling toe gaan. Dit is waar produsente baie keer ‘n fout begaan; die is ‘n kritieke fase met betrekking tot raam en spier-ontwikkeling van jong bulle. Hulle behoeftes is nie so hoog soos die van speen bulletjies nie, maar hulle benodig steeds meer voedings-digte aanvullings as volwasse bulle om hulle groei en ontwikkeling te ondersteun. Jaar tot 2 jaar-oue bulle
Dit is belangrik dat bulle se raam (wat kraakbeen ook insluit) en spierstelsel mooi ontwikkel word. Teen die ouderdom van 14-15 maande , moet bulle ten minste 50% van hul volwasse liggaamsmassa bereik het. Vanaf 15 maande tot ‘n 2-jarige ouderdom, is dit ideaal dat bulle teen ‘n tempo van tussen 0.9 en 1 kg per dag groei. Dié groeitempo kan op goeie-gehalte weidings behaal word met die aanwending van die regte aanvullings.
Aanvullings moet ‘n deurvloei proteïenkomponent bevat, wat spierontwikkeling gaan ondersteun. Tesame, moet genoegsame kalsium (Ca) en fosfor (P) voorsien word, om raam- en kraakbeenontwikkeling te ondersteun. Indien ‘n aanvulling Vitamien D3 bevat, sal dit ook voordelig wees vir kalsium en fosfor absorpsie. Laastens, moet ‘n aanvulling gebalanseer wees in terme van sy makro- en spoormineraal samestelling. Op groen, aktief-groeiende weidings kan die bulletjies 1kg Voermol Supermol (V7267) per dag ontvang. Op droë weidings is dit gewens dat bulletjies ‘n produksielek ontvang. Produsente kan hulle eie produksielekke meng met Voermol Dundee Lekkonsentraat (V10737) of kan ‘n bekende produk uit die Voermol-stal aanwend, Voermol Produksielek (V10108), wat teen 1 – 1.5 kg/bul/dag voorsien word. Teen 24 maande ouderdom (2 jaar oud bulle), is dit gewens dat bulle 75% van hulle volwasse liggamsmassa bereik het.



