Bulle gaan deur verskillende fases voordat hulle kuddevaars kan word. In elke fase, word daar klem op verskillende faktore geplaas, om die beste uit die toekomstige bul te kry.
Ontwikkeling van Bulle
In-utero
Alle bulle se ontwikkeling begin by die dragtige koei. Koeie moet gedurende dragtigheid geen tekorte ervaar nie, wat direk die ontwikkeling van die ongebore bul gaan beïnvloed. Klem word veral op die laaste trimester van dragtigheid gelê, waar ongebore fetusse meer as 70% kan groei. Voeding of omgewingstres (wat hittestres insluit) gedurende mid-laat dragtigheid mag moontlik die toekomstige reproduksie potensiaal van ongebore bulle belemmer.
Voor geslagsrypheid (puberteit)
Die belangrikste fase in enige bul se lewe is voor hy geslagsrypheid bereik (5-25 weke se ouderdom). Gedurende dié tydperk, ontwikkel die geslagsorgane en gepaardgaande kliere, wat die langtermyn vrugbaarheid van die bul gaan beïnvloed. Die fase gaan ook die ouderdom bepaal wanneer die bul puberteit bereik.
Die ontwikkeling sluit in:
- Die getal Sertoli-selle (selle verantwoordelik vir die ontwikkeling van spermselle) word vasgestel voor speen, wat die leeftyd sperm-produksie vermoë van die bul beïnvloed.
- Groei van die testis (m.a.w. verhoogde volume van die testis, dus kan groter sperm reserwes gehuisves word).
- Volwasse Leydig’s-selle: verantwoordelik vir die produksie en vrystelling van testosteroon.
Indien bulle voor ses maande ouderdom voedingstekorte ervaar (m.a.w. voor speen), kan dit nie later in die bul se lewe reggestel word deur voeding nie. Jong bulle wat voor ses maande wanvoeding ervaar sal tot swak testisontwikkeling gevolg, en dus langer vat om geslagsrypheid te bereik. Bulle wat vanaf eerstekalf-koeie gespeen word, mag ook vertraagde geslagsrypheid ervaar omrede dié groep koeie tipies verlaagde melkproduksie toon. Kruipvoer is ‘n oplossing om goeie ontwikkeling by jong bulletjies te verseker voor speen. Voermol SB 100 (V4498), Voermol Procon 33 (V12701) en Voermol Melassemeel (V1995) kan met mielies vermeng word, om ‘n goeie-gehalte kruipvoer vir kalwers te maak. Meng die produkte in die volgende verhouding om ‘n kruipvoer te maak:
- 150kg Voermol SB 100
- 50kg Voermol Procon 33
- 80kg Melassemeel (40kg van die melassemeel kan met 40kg Voermol Stressbuster (V35135) vervang word, een maand voor speen, om speenskok te verlaag)
- 720kg mielies of chop
Die kruipvoer inname moet gemonitor en gereguleer word, sodat oorvoeding nie plaasvind nie (indien kruipvoer inname 1.5% van liggaamsmassa oorskry, moet dit beperk word). Oorvoeding mag lei tot verlaagde sperm- produksie en gehalte.
Na speen
Bulle moet teen ‘n groeitempo van 0.9-1.2kg gedurende die periode vanaf speen tot ‘n jaar ouderdom groei. Aanvullings wat vir jong bulle voorsien word, moet genoegsame proteïen bevat om die groei en ontwikkeling van die bul te ondersteun, maar ook om te verseker dat grootpens funksie nie belemmer word nie (die gebeur gewoonlik wanneer die totale dieët van die bul minder as 10.5% proteien bevat). Dus moet die speen bulle op goeie gehalte weidings loop, en gebalanseerde aanvullings in die tydperk ontvang. Op droëweiding moet speenbulletjies Voermol Produksielek (V10108) teen 1-1.5kg per dag ontvang of op groen weiding 1kg Voermol Supermol (V7267) per bul per dag. Maak ook seker dat genoegsame vreetspasie vir bulle voorsien word by die lekbakke.
Produsente moet waaksaam wees wanneer hulle besluit op ‘n voedingsprogram vir Fase D of Fase C toetse vir bulle (of dus die bulle op die veld uitgegroei word). Die rantsoen moet genoegsame vesel en deurvloeiproteïen bevat om ‘n uitermatige groeitempo wat 1-1.4kg/dag oorskry, te verhoed. Indien bulle teen ‘n tempo van >1.4kg/d groei, mag dit nadelig wees vir geslagsorgaan ontwikkeling en kan tot grootpensskade lei. Vir die bulle wat onder ‘n jaar ouderdom is, sal dit ‘n leeftyd impak op die bul se vrugbaarheid hê, en nie na ‘n jaar ouderdom reg gestel kan word nie.



